Bloemfontein
Die groot grysbruin gebou rys uit die woonbuurt rondom hom op, net soos ek dit onthou, en 26 jaar verdwyn met die click van 'n indicator. Ek draai links in Stegmanstraat na die plek waar ek my ma gelos het.
Ons het haar wel die volgende dag agterin die rooi Ford bakkie gelaai en De Aar toe gery, maar sy't híér agtergebly. Dis die laaste plek dat ek haar lewend gesien het. Dis waar ek haar dood gesien het. Ek weet nie wie se donnerse idee dit was dat ek die lyk moes bekyk nie, maar ek wens hulle het nooit daardie gedagte gekry nie. Kwansuis om koebaai te sê. Ons het almal in die verdonkerde kamer ingefile, Ouma net voor my, om die pers geswelde vrou op die bed te groet.
Daar's 'n nuwe vlerk aangebou, die Netcare Private Hospital, en dis waar Ouma nou lê. Tweede heup gebreek 'n week voordat sy vir my sou kom kuier. Oumatjie wie se lewe langer uitgerek word omdat haar dogter en skoonseun s'n so kort was. Dit gaan goed, sê sy. Sy kla nooit. Op 95 slaag sy steeds daarin om haar waardigheid te behou, selfs in hierdie ekstreme situasie. Nog altyd stylvol, dis my ouma. Hanteer elke ding met grasie. Sy's bly ek het gekom.
Ek ook.
Maar die pad vanuit die intensiewe sorgeenheid lei na die chirurgiese saal op die negende vloer van die ou hospitaal. Ek is nie voorbereid dat alles nog dieselfde gaan wees nie en dit vang my onkant. Die marmervloere onder my voete, die marmer teen die mure, die marmertrappe waarop ek rondgespeel het as kind terwyl my ma van dokter na dokter gestuur is, eenmaal per maand as ons vir 'n dag (of twee, of drie) van Molteno af gery het. Die wese van stadswees vir 'n plaaskind opgesluit in 'n tienverdiepinggebou met lifts.
Fokkit, dis nog presies dieselfde hysbakke ook, dink ek toe ek sien die goed is ten minste twintig jaar overdue vir 'n upgrade. Ons kraak en skommel tot bo. En daar sit hy. Die wagkamer in die hoek. Miskien was dit nie op dié vloer nie, maar elke vloer se uitleg is tog dieselfde.
Die wagkamer in die hoek is nou 'n kantoor met 'n Trellidor, maar toe was dit 'n plek waar mens sit en wag. En wag, en wag, en wag op die blou en oranje sintetiese stoele. My pa en sy swaer was gou af snoepwinkel toe vir 'n koppie koffie of 'n koerant en Ouma het langs my gesit om my company te hou toe die jong dokters, een man en een vrou, in die deur kom staan met hulle wit jassies en vra of ons die familie van mevrou Jooste is.
My eerste gewaarwording was 'n onwillekeurige opwelling van hoop, van opwinding want hulle gaan vir ons kom vertel sy's beter. Dis regtig wat ek gedink het.
Die volgende oomblik staan ek in die middel van 'n enorme ronde marmerkamer met deure reg rondom, soos outomatiese garagedeure wat van bo na onder afsak. En al die deure maak toe. Ek probeer hardloop maar ek kan nie gou genoeg by die openinge tussen deur en vloer kom nie, die goed maak te vinnig toe, en ek staan in die middel van die leë marmersaal en kyk hoe die deure almal toemaak. Hulle sou vir 'n lang tyd toebly.
Ons het altyd in die Roberta Hotel oorgebly. Na soveel jare neem dit net een sydelingse kyk na die kaart en ek ry sonder omdraai reguit vanaf Universitas na Roth Avenue oorkant die Nasionale Hospitaal. Hier het baie verander, maar ek kan nog die Roberta herken onder die Afrika-baadjie wat sy intussen aangetrek het.
Taxi's staan op die sypaadjie en rommel klou aan die duiwelsvurkheining wat die hotel en sy ou anneks omring. Dis altyd sad as herinneringe verval. Maar dan, in my Bloemfonteindae was daar mos nie swartmense nie. Hulle't eers begin bykom toe my pa in die hospitaal beland het.
Twee jaar na ons my ma daar gelos het, het sy hart ingegee en het ek verskeie gastekamers rondom die Universitas betrek saam met 'n veranderende konstellasie van familielede. Toe my pa na ses weke in die ICU huis toe kom het die helfte van hom daar agtergebly en die helfte wat huis toe gekom het, het nie lank gehou nie.
Op my tweede middag in Bloemfontein kom ek terug van 'n Spur-lunch in die Mimosa Mall om 'n slapende ouma in die privaatsaal te kry. Die kamer is stil en donker en ek maak my tuis op die oop bed in die hoek. Ek is moeg. Moeg van min slaap, moeg van worry, maar ook moeg van die plek se marmermure en toegesluite wagkamers. Ek maak my oë toe en luister na die egalige ritmaat van die suurstofborrels wat my ouma aan die lewe hou. En dit begin reën.
Die reën word later hael. Die bliksemstrale skiet deur die donker kamer en breek deur my toe oë. Ouma word wakker en ons sit saam die storm en uitluister. Die donderweer maak hierdie Kapenaar bang, maar dis tog ook vreeslik opwindend so op die negende verdieping. 'n Swerm druipnat duiwe vind skuiling in die buitekantste holtes van die growwe grys gebou.
So skielik as wat die wolkbreuk begin het, is dit oor. Die son kom uit. Ek sê koebaai vir Ouma en loop na die gehuurde kar in die parkeerterrein. Die wêreld buite is helder en blinkskoon gewas, al die stowwerigheid van vroeër die dag is weg. Net voor ek wegry van die hospitaal af neem ek 'n foto.
Die gebou lyk kleiner, minder imposant, minder dreigend na al die water. Skielik word ek herinner aan Tarkovsky se Mirror, die toneel waar dit binne-in die huis reën. Tog wonderlik hoe die waters waar rus is selfs oor harde marmervloere kan vloei, teen mure op en met trappe af, en by die voordeur uit...