Ontheemding

 


Dis wanneer ek só voel dat Buurman se .270 baie aanloklik begin lyk waar hy in die kluis toegesluit staan. Die wanskape misvormdheid voor die computer kan nie skryf nie. Die ding sit op die stoel met 'n klip in sy maag, 'n krampagtige gevoel wat eers herinner aan opgewondenheid, tot die gedrog besef: dis vrees wat so voel. Verlammende vrees vir wanskape wees. Die wanskape wese vrees sy eie wanstaltigheid. Ek soek woorde in die HAT, want hierdie wanskapenheid bestaan buite die kring van naamgewing, soos 'n brandsiek township-hond wat aan niemand behoort nie. Die lelike ding wat niemand wil sien nie, wat almal van wegkyk; nie van wil weet nie. Wat mens sommer wegskop wanneer hy 'n oorlas van homself maak.

 

Op die laaste dag van September stuur my suster twee vars foto's van ons ma. Sy vra eers of ek wil sien, want sy is gaaf en het begrip. Ek sê ja en laai die foto's af. Dit vat my weke om die foto's oop te maak. Ek kyk skrams, sonder om te sien. Ek raak gaandeweg afgestomp, die kleur verdwyn uit my dae en ek besef dis vermyding wat so maak. Ek besluit om te kyk en te voel wat ek moet voel; dis tog hoe mens heel word. Teen die tyd dat ek regtig kyk is dit 'n antiklimaks. Ek wonder of my geboortema my sou wou ken as ek 'n kleinkind kon aanbied soos haar ander dogters en hulle kinders, as daar 'n voortsetting van die bloedlyn was, of sou dit 'n groter verdoemenis wees omdat die verkragter se bloed ook in die kleinkind se are sou meng met haar eie. As ek na my ma kyk, sien ek eerstens 'n songebrande mens wat ek wil troos, en dan begin 'n hunkering na erkenning aan my rokspante pluk soos 'n vasbeslote kleuter. As ek nog net één keer kon vra of sy my sal sien. Die onhoudbare hunkering word 'n vae verlange gevolg deur 'n akute gevoel van verwerping. Die verwerping bly. Wat sien sy as sy na my kyk? Net 'n ongewenste verwekking wat sy gedwing is om nege maande lank te dra voordat sy daarvan kon ontslae raak. Nie 'n mens nie. Sy't nie kon voorsien die weggeekind sou teruggekruip kom nie. 

Die triek is om, te midde van verwerping, nie jouself te verwerp nie. Ek kry dit nie dié keer reg nie. Presies 'n maand ná die foto's kom die herdenking van my aanneemma se dood. Die ma wat my vir veertien jaar verstaan en aanvaar het. Haar beeld raak dof, ek kan haar stem nie meer hoor nie, vertel ek op Facebook en familie deel hul eie herinneringe. Maar hul onthou is nie myne nie en hoe dankbaar ek ook daarvoor is - want dit kleur my prentjie in - kan ek nie op ander se ervaring van my ma bou nie. Ek besef ek moet weereens vir my regte ma rou. Mens rou nie net een keer oor jou ma se dood nie, leer ek. Soos jy ouer word, moet jy jou verlies van tyd tot tyd "update". Dus huil ek vir die ma wat my wou hê. Iewers op die grys vlakte tussen verlies en verwerping kry ek vir my die lelikste, brandsiekste brak om te versorg. Ek is pynlik bewus van die verband tussen selfverwerping en Moeder Theresa speel in die stowwerige strate van ons plaaslike Kalkutta. My eie diere vind ook baat by my behoefte aan onbaatsugtige vertroeteling. Ek, wat so baie te sê het oor mense wat kinders aanneem of pleegsorg pleeg nie omdat hulle genoeg liefde het om te gee nie, maar omdat die kind iets in die aanneem- of pleegouer moet regmaak of voor vergoed. Hel, ten minste is jy bewus daarvan, troos ek myself, en dis nie asof die brak nie daarop gedy nie.

My omgee kom nie (meer) uit 'n plek van gebrek en onkunde nie, maar dit sou maklik kon ontaard in 'n verplasing van selfversorging. Soos wat mense maar deur werk of ander bedwelming vlug van hul eie nood. Dis juis oor die verdowing van 'n paar glase Sauvignon Blanc dat ek Buurman eergisteraand vertel meeste dae wil ek nie lewe nie. Ek hou aan bestaan, want die alternatief is morsig en ek kom elke keer teen die katte te staan. Ek sal nie my diere onversorg kan laat nie. Ek leef egter dikwels in 'n tussenwêreld waar ek myself niks goeds gun nie. Nie tuisoefening nie, nie 'n salonpedikuur nie, nie eens 'n boek om te lees nie. Ek stop my mond vol sweets en sigarette soos 'n klein hondjie wat te vroeg van sy ma ontneem is en die res van sy lewe aan 'n kombers moet suig. Dit help nie om spieëls te vermy nie want ek kan my afskuwelike self steeds sien. Goed wat nie voltyds pla nie word ál wat bestaan: vet knieë, netwerke van rooi en blou are op bleekwit bene, vel deurtrek van selluliet, hangwange en voue keelvel wat vererger wanneer ek my ken laat sak. Die afsku omring my, vul my, loop in smetterige etter by oop, korserige velsere uit.

 

VRYWARING: Dis nie nodig om die Suicide Hotline te bel nie. Die blote feit dat ek skryf, beteken ek werk daardeur. Waar woorde is, is hoop.

     

Popular posts from this blog

Ons het jou in die Kaap gaan haal

'n Tyd om te kom en 'n tyd om te gaan

You Give God a Bad Name [Part 2]