Skoon







Gister is ons terug onkologiesentrum toe. Dis nie meer so vreemd daar nie. Nog voordat hy kan aanmeld, sê die assistent agter die toonbank meneer Jordaan kan maar gaan sit. Ek het al 'n sin van eienaarskap oor die ligpers tweesitplekbank in die ruim ontvangslokaal en sit reeds. Daar's huismooimaaktydskrifte op die koffietafel en ek gryp 'n uitgawe wat ek in die winkel gemis het, grawe my bril uit my handsak en wys vir Buurman goed wat vir my mooi is. Daar's selfs klein pakkies potlode en inkleurboeke vir grootmense, maar ek lus nie om iemand anders se lelik ingekleurde prentjie klaar te maak nie. 

Ons moet weer wag. Nie meer so bang soos die vorige keer nie. Ietwat fatalisties geraak intussen. Ons sit gewapen met ons vrae vir die locum-dokter - Buurman se eintlike onkoloog is met vakansie. Dis amper soos 'n tweede opinie kry, reken ons, teen geen ektra koste. 

'n Groot, vaal vrou aan die ver kant van vyftig stel haarself voor as Irene. Net dit. Nie dokter nie. Sy't vellies aan haar voete en 'n toeknooptrui wat oophang. Haar kort, grys hare staan orent. Ek hou onmiddellik van haar. Sy's afgetree, sê sy. Maar sy hou aan werk. In die kankerbedryf kan jy nie bekostig om ses maande nie te werk nie, want dan raak jy agter, so vinnig verskuif die kennisveld.    

In haar kantoor val sy sommer met die deur in die huis: goeie nuus, die vorige dag se PET-scan is skoon. Oorgedra met warmte en gevoel, so verskriklik anders as die vorige dokter se koue saaklikheid. Ek en Buurman is nie dans-op-die-tafel mense nie, tensy daar vonkelwyn en musiek by betrokke is en die tafel stewig genoeg. Ons vra ons vrae en ry huis toe met die wete dat die stryd nou eers begin. 


Maar


hy begin op 'n skoon speelveld. Al die kanker is uitgesny. Daar's niks in die organe nie. Die plastiese chirurg het ons oorspronklik gesê hy vat eerder te veel weefsel as te min. Die lang sny aan Buurman se nek getuig stom daarvan.

Melanoom kan enige tyd terugkom. Dis wat "ongeneeslike siekte" beteken: kan nie genees word nie; kan net gemonitor word en so vroeg moontlik uitgesny word. Immuunbehandeling gee mens 'n 40-50% beter kans dat dit nié terugkom nie. Nou wag ons vir die mediese fonds om te besluit of hulle vir die immuunbehandeling wil betaal. Die kans is skraal, maar Keytruda is onlangs goedgekeur deur die Suid-Afrikaanse Mediese Raad en dit mag dalk help, tesame met 'n motiveringsbrief deur die onkoloog.

Gisteraand het ons 'n glasie geklink op die goeie nuus, maar daar vloei so baie vonkelwyn in hierdie kloof die oopmaak van nog 'n bottel was nie buitengewoon nie. My dankbaarheid vergestalt in die kleur van die vroeë oggendlig op pad dorp toe, my saamsing met Margaret Singana oor die radio, die geesdrif waarmee ek vandag meubels rondgeskuif het; my blydskap dat Buurman ten minste 'n skoon begin kry vir die stryd wat voorlê. 







Popular posts from this blog

You Give God a Bad Name [Part 2]

'n Tyd om te kom en 'n tyd om te gaan

Ons het jou in die Kaap gaan haal