Sondag



Voetpadsberg


Gister is ek en Buurman kerk toe. Nie een van ons was lus om te gaan nie. Kerk toe gaan is baie soos gym toe gaan: jy moet jouself oorreed om daar te kom, maar as jy eers daar is, wil jy nêrens anders wees nie.

Die stap was moeilik want dis off-trail, m.a.w. ons moes vir twee ure deur die bosse ploeg om daar te kom. Vier jaar het verbygegaan sedert ons die roete aan die oostekant van die kloof laas geloop het en hy't amper onherkenbaar toegegroei in daardie tyd. Ons kloof het seker twintig jaar laas gebrand en die biomassa is so dig dis kol-kol ondeurdringbaar. Boonop groei die dodder oor alles. Dodder laat my gril.

Doornkloof se enigste botaniese "claim to fame" is die Brunsvigia josephinae of reusekandelaar wat veel verder in die kloof op groei. Hulle is verwant aan die gewone Brunsvigia orientalis of seeroogblom wat algemeen voorkom en net so mooi is, maar kleiner. Josephinae is vernoem na Napoleon se eerste vrou, die heerseres Josephine, en word ook die Empress Lily genoem. Hulle staan maklik borshoog en is 'n asemrowende mooi, diep rooi.


 Vier jaar gelede se blom


Ons het geweet ons gaan nie gister blomme sien nie, want josephinae se blomtyd is so middel Maart. Maar ons wou in elk geval weet of hulle geblom het. Skuifel-skuifel is ons teen die steil berghelling tot daar, met Buurman wat voor loop sodat hy die pad kan aanwys en die renosterbosse kan plattrap. Die oomblik toe die oggendmis wyk, toe's dit warm en windstil soos dit net onder in hierdie kloof kan word.

Die eerste groep josephinae het nie geblom dié jaar nie, maar verder aan kry ons 'n paar wat sade aanhet en ons sien 'n besonder groot kandelaarblom staan op 'n amper onbereikbare plek naby die stroom. Toe gaan swem ons in die yskoue bergpoel wat ons vier jaar gelede ontdek het. Niemand was daar tussen toe en nou nie. Ons besef hoe bevoorreg ons is.

Met 'n bietjie rotsklouter is ons teen die westekant van die kloof uit tot tussen 'n groep van omtrent twaalf swaeltjies wat baljaar in die bries wat daarbo waai. Hulle vlieg tot amper teen ons om die snaakse mens-goed te bekyk wat hulle wêreld betree. Hulle vlieg sommer vir die lekker; net omdat hulle kán.

Op die kruin wys Buurman my 'n paar witkruisarende wat argeloos sweef teen die malse blou lug. 

Ons praat saggies, want die oomblik is heilig. En ons kerk is groots.


Droë josephinae maak 'n goeie kersboom






Popular posts from this blog

Ontheemding

You Give God a Bad Name [Part 2]

Roepman's Story, the short version