'n Tyd om te kom en 'n tyd om te gaan


 

 Winter 1968


Wat is beter: om te weet jou pa gaan dood of om hom onverwags te verloor? So wonder ek en my neef nou die dag. 'n Ander niggie, wie se pa onverwags weg is, reken sy sou enigiets gee vir nog net een gesprek, vir die kans om te kan afskeid neem. Ek sê ek weet nie.

My pa (middel agter op die foto hierbo) is dood ná twee maande in 'n hoësorgeenheid. Hy het sy hoeveelste hartaanval oorleef en sou moes terug hospitaal toe vir 'n hartomleiding wanneer hy sterk genoeg was. Een keer was dit ámper. 'n Dominee in 'n bruin poliësterpak roep my eenkant toe in die intensiewe eenheid. Hy wil weet of daar iets fout is tussen my en my pa. Ek voel oorbluf. Ek kan nie sien waarop die gesprek afstuur nie. Die magswanbalans tussen outoriteitsfiguur en sestienjarige laat my onseker staan.

Nee, hoekom?

Want dit lyk of jou pa nie wíl lewe nie, sê hy. Ek steek die geheim weg dat ek en my pa baklei. Dat ons nooit praat oor my dooie ma (heel regs op foto bo) nie. Dat hy drink en dat hy gedreig het om my terug te stuur waar ek vandaan kom. Ek wil nie die rede wees dat my pa nie wil lewe nie. Hulle doen in elk geval die trageostomie. Hy leef, of hy nou wil of nie. Omtrent die helfte van my pa kom huis toe, waar hy ná 'n week sy laaste hartaanval kry. Ek vrees sy dood sonder om dit te verwag. Dit kom as 'n helse skok.

 

Oupa & Ouma in 1968

My ouma het vertel hoe Oupa longkanker gekry het van werk op die asbesmyne. Met diagnose het die dokter hom drie maande gegee en tot op die dag, drie maande later, is hy dood. Volgens die foto's van Oupa in die sonkamer omring deur familie lyk dit of hy dalk 'n goeie drie maande gehad het. Tydens die winter van 1968 was my tannie (heel links op foto bo-aan blad) verwagtend met my niggie. My ma en pa sou ongeveer ses maande later 'n oproep kry om hulle baba in die Kaap te gaan haal. Twee nuwe lewens toegevoeg vir een gevat.

My pa se broer was baie siek, weke lank, sommige waarvan ek hom opgepas het. Ek was daagliks betrokke by sy welvaart en het gesien hoe swak hy is. Tog kom sy dood agter 'n toe kamerdeur, een middag sommer so onder ons neuse, onverwags. Van my ma het ek al baie geskryf, hoe ek gedink het die dokters kom sê sy's beter en toe sê hulle sy's dood.

Gister gaan sien ek my ma se broer, links agter op die familiefoto en neef van die eerste paragraaf se pa. Die dokters het hom vroeër vanjaar al vier tot ses maande gegee. Hy's geraamtemaer, maar sy gedagtes bly glashelder. Praat besigheid net soos altyd. My oom self glo hy gaan gesond word en dis goed so. Dit hou hom aan die gang. Ek dink aan sy pa wat drie maande gekry het; my pa wat sonder notice moes vort. En ek weet nie of dit beter is om totsiens te kan sê nie, want die finaliteit van die dood - daardie oorgang tussen nou hier en 'n oomblik later nooit weer hier nie - bly vreemd en in hierdie vreemdheid lê die skok. 

Ek lees boeke oor die dood om hom minder vreemd te maak. Meghan O'Rourke se beskrywing van haar rouproses tydens en na haar ma se kankerdood laat my wonder hoekom ek nog wonder - solank daar nie lyding is nie gun ons seker ons geliefdes die weggaan wat hulle sou verkies, nie die een wat dit vir óns makliker maak nie?



Wat ek wel weet, is dat ons meer oor die dood moet praat, dit meer deel maak van die alledaagse, sodat dit nie as 'n verskrikking kom nie. My ouma het gesê mens moet jou gewoond maak aan 'n ding. Ouma was 54 toe sy haar lewensmaat verloor het. Sy het 49 jaar lank alleen agtergebly en haar eie raad gebruik toe sy moes trek van huis na woonstel na ander woonstel na ouetehuiskamer na kleiner ouetehuiskamer. Sy dien vandag nog as sjabloon wanneer ek 'n nuwe lewenstadium moet betree sonder voorbeeld of mentor.

Die konsep van Swedish Death Cleaning fassineer my al 'n geruime tyd. Dis nie morbied nie, eerder 'n manier om vrede te maak met jou eie verganklikheid en sommer ook die wêreld makliker te maak vir jou agtergeblewenes. Ek het nie kinders nie en die goed wat ek agterlos sal hopelik huis kry tussen familie, vriende, en die Hospice Shop. Intussen maak ek minder, vier my eie verganklikheid en daarmee saam, die lewe, wat maar net die ander kant van die muntstuk is.  

 

Oupa met drie maande oor om te leef. Dit lyk of hy die lewe vier. 
 


On Death

You would know the secret of death.
But how shall you find it unless you seek it in the heart of life?
The owl whose night-bound eyes are blind unto the day cannot unveil the mystery of light.
If you would indeed behold the spirit of death, open your heart wide unto the body of life.
For life and death are one, even as the river and the sea are one.

[...]

For what is it to die but to stand naked in the wind and to melt into the sun?
And what is it to cease breathing, but to free the breath from its restless tides, that it may rise and expand and seek God unencumbered?

Only when you drink from the river of silence shall you indeed sing.
And when you have reached the mountain top, then you shall begin to climb.
And when the earth shall claim your limbs, then shall you truly dance.



Popular posts from this blog

Ons het jou in die Kaap gaan haal

You Give God a Bad Name [Part 2]