Ons het jou in die Kaap gaan haal

  

Die Fairlane is 'n paar jaar later ingetrade - circa 1974

 


 

My pa het my so liefgehad dat hy sy kar se venster met 'n wielspanner flenters geslaan het om te sorg dat ek nie warm kry nie. Dit was die somer van 1968 en snikwarm in die Groot Karoo. My pa was lief vir karre. Hy't die lang, babablou Ford Fairlane sonder vinne kort vantevore gekoop, net voordat hulle moes Kaap toe ry om my te gaan haal. Die kar het elektriese vensters gehad, spoggerig vir sy tyd, maar klaarblyklik nie lugreëling nie, want toe die vensters weier om af te rol met die terugkomslag deur Laingsburg of Beaufort-Wes of Prins Albert, toe's hulle bang ek versmoor. Van 'n man wat sy karre in sy hart gedra het, moes dit veel gevat het om willekeurig sulke skade aan sy splinternuwe vlagskip te pleeg. Aan my pa se liefde vir my, tien dae gelede agtergelaat in die Mowbray-verpleeginrigting en nou op pad na my nuwe huis op 'n Karooplaas, bestaan daar dus geen twyfel nie.

Vyftien jaar later sou my pa my met 'n swart sambok wat hy by die Zulu-straatverkopers tydens ons enkele Durban-vakansie gekoop het, aanrand. Die houe sou reën teen my lyf, my bene, my rug, my skouers, my tienertieties. My gesig. Ek sou skuiling soek in my slaapkamer maar dit nie kry nie. Die mat, die bed, die leë hoekie tussen vensterbank en spieëlkas tuimel rondom my soos ek probeer wegkom. Hy trek sy arm terug en slaan weer en weer. My pa was goed met 'n sambok. Hy kon self swepe vleg en hulle laat klap soos 'n geweerskoot. Die klap was alles in die voorslag, het hy gesê. Hy moes daai aand die goedkoop brandewynglas op die spieëltafel neergesit het waar dit later 'n bleek ring op die hout sou los. Hy kon dit tog nie heeltyd in sy hand gehou het nie. My geheue sny uit. Ek kan nie onthou waar die glas gestaan het nie.

Wat het verander tussen dié twee voorbeelde van geweld? Wat het gebeur om die kosbare kleinood van 'n aanneemkind te vervorm tot die vyftienjarige objek van afgeslukte raserny, frustrasie, en vergelding?

Alles.

Alles het gebeur.


Popular posts from this blog

'n Tyd om te kom en 'n tyd om te gaan

You Give God a Bad Name [Part 2]