Die ding sonder naam
Wat is dit wat ek verloor het, wat ek in my arms gedra het en nou weg is? Wat in my hart was vir so 'n kort rukkie voor die leegheid teruggekom het? Ek moet die ding se naam uitvind sodat ek dit weer kan soek. Maar dis dalk nie iets wat mens kan voor streef nie. Dis dalk iets wat óf daar is óf nie.
My leegheid dra die vorm van 'n swart-en-wit katjie met lang beentjies en die vreeslikste liefde vir mense. Johannes, het Buurman hom genoem, "Djou Highness". Ou Hannessie, wat voor my uitgehardloop-spring het as ek sy naam roep kamer toe waar ons sy kossies weggesteek het vir die ander katte. Die purr-masjien wat my vyfuur soggens kon wakkerspin met sy entoesiasme vir nuwe daglig, wat moes eet die oomblik dat hy wakker word. Sy sagte katjielyf is wat my arms mis, die gat in my borskas dra sy vorm.
Ek raak afgesluit van die wêreld daarbuite. Dom. Stom. Dis nie moeilik hier in die kloof nie. Ek ignoreer eenvoudig emails, selfs die dringendes. Die gastehuisbeddens staan soos hulle gelos is, die klein, wit rosies verlep in hul ronde glaspotte, die agtergelate kos verval in die yskas. My eie huis lyk soos 'n Marie Kondo "before"-foto. Ek gril vir die taai op die kombuisvloer waaraan my plakkies vaskleef. Ek wil nie hier wees nie. My lyf voel swaar, asof ek tien kilogram opgetel het. Dalk het ek, want ek eet soos 'n vraat: almal se oorbly-pizza, 'n groot stuk koek by Mugg&Bean wat ek nie eens proe nie, so tussen die trane deur wat ek probeer wegsteek want ek wil nie tussen mense huil nie. Ek hou aan eet tot dit nie meer lekker is nie en dan eet ek verder vir straf, volgens my ou gewoonte. Ek voel vet, lelik, oud, en onmenslik moeg. Vanoggend kon ek my kop nie optel nie of hy draai. Ek verstaan nie hoekom die depressie nie - want ek kan dit darem raaksien - ek het dan gehuil, ek het dan geskree, ek het mos nie teruggehou met die rou nie.
Maar ek weet. Diep binne my weet ek. Dis die vorige verliese wat oorvat. Die wat ek al verwerk het. Ek probeer vir Buurman verduidelik van compound loss en, getrou aan sy praktiese aard, dink hy ek praat van die ekonomie. Snaaks genoeg pla dit my nie dat Buurman nie verstaan nie. Die wete van sy liefde is genoeg, die hand om myne as ek terugklim in die bed nadat ek vroegoggend wakkergeskrik het van angs. Dat hy flegmaties bly terwyl ek pinball tussen skok en rou. Dat niks hom versteur nie, want alles gaan verby.
Ek probeer dit self verstaan. Ek hét dan die goed verwerk. Ek hét vir die dooies gerou, vir die verliese wat ek as kind nie kon nie; ek het teruggegaan en hulle by name genoem, een vir een, deurgewerk en geïntegreer. Vir wat kom die verstrengelende onvermoë terug? Ek sê nee vir die een na die ander uitnodiging. Buurman gaan kyk die Cape to Rio op 'n seiljag in die sonskyn en ek bly agter, ongestort en sweterig op my kantoorstoel se klewerige kunsleer met 'n botteltjie Coke voor die computer, die blindings toegetrek. Ek sluk die swart vloeistof teësinnig. Die borrels blaas my op. Ek wil niks doen nie. Ek wil net lê met my swaar, vet, vuil lyf op die onopgemaakte bed by my oorblywende kat. Maar die kamer is vol vlieë en dis warm en ek sal darem graag die huis bietjie wil regruk voor Buurman terugkom.
Wat is dit wat ek verloor het?
Dis iets wat met Hannes se koms vir 'n kort rukkie aan my terugbesorg is. My pa wat nie dood is nie in 'n droom. 'n Gevoel van "reg" wees in iemand wat haar hele lewe lank verkeerd voel. Dat alles nie altyd bevraagteken hoef te word nie. Dat ek iets as vanselfsprekend kan ervaar. Dat ek hier hoort. Dat ek nie hoef verantwoording te doen vir my bestaan nie, altyd moet streef om my waarde te bewys nie. Is dit wat vroue kry as hulle kinders het? Is dit wat ma-wees beteken? Ek het al gelees van ma's wat sê hulle het die eerste keer geweet waarom hulle op die aarde is toe hulle 'n kind gehad het. Dit gaan vir my nie soseer oor 'n doel nie - ek dink "doel" word oordryf as bestaansrede. Die ding sonder naam gaan meer oor "wees" as oor "doen". Dis gelykertyd 'n gebrek wat ek afgelê het en 'n langverlore deel van my wat herstel is - so lankal verloor dat dit heeltemal nuut gevoel het. Dis baie belangrik dat ek dit terugvind. Ek vermoed my hele menswees lê daarin opgesluit.
Ek dink die naam is dalk belonging.
![]() |
Cecelia Paredes |