Ons het jou in die Kaap gaan haal
Die Fairlane is 'n paar jaar later ingetrade - circa 1974 ❤ My pa het my so liefgehad dat hy sy kar se venster met 'n wielspanner flenters geslaan het om te sorg dat ek nie warm kry nie. Dit was die somer van 1968 en snikwarm in die Groot Karoo. My pa was lief vir karre. Hy't die lang, babablou Ford Fairlane sonder vinne kort vantevore gekoop, net voordat hulle moes Kaap toe ry om my te gaan haal. Die kar het elektriese vensters gehad, spoggerig vir sy tyd, maar klaarblyklik nie lugreëling nie, want toe die vensters weier om af te rol met die terugkomslag deur Laingsburg of Beaufort-Wes of Prins Albert, toe's hulle bang ek versmoor. Van 'n man wat sy karre in sy hart gedra het, moes dit veel gevat het om willekeurig sulke skade aan sy splinternuwe vlagskip te pleeg. Aan my pa se liefde vir my, tien dae gelede agtergelaat in die Mowbray-verpleeginrigting en nou op pad na my nuwe huis op 'n Karooplaas, bestaan daar dus geen twyfel nie. Vyftien jaar late...