Skoon
Gister is ons terug onkologiesentrum toe. Dis nie meer so vreemd daar nie. Nog voordat hy kan aanmeld, sê die assistent agter die toonbank meneer Jordaan kan maar gaan sit. Ek het al 'n sin van eienaarskap oor die ligpers tweesitplekbank in die ruim ontvangslokaal en sit reeds. Daar's huismooimaaktydskrifte op die koffietafel en ek gryp 'n uitgawe wat ek in die winkel gemis het, grawe my bril uit my handsak en wys vir Buurman goed wat vir my mooi is. Daar's selfs klein pakkies potlode en inkleurboeke vir grootmense, maar ek lus nie om iemand anders se lelik ingekleurde prentjie klaar te maak nie. Ons moet weer wag. Nie meer so bang soos die vorige keer nie. Ietwat fatalisties geraak intussen. Ons sit gewapen met ons vrae vir die locum -dokter - Buurman se eintlike onkoloog is met vakansie. Dis amper soos 'n tweede opinie kry, reken ons, teen geen ektra koste. 'n Groot, vaal vrou aan die ver kant van vyftig stel haarself voor as Irene. N...
