'n Tyd om te kom en 'n tyd om te gaan
Winter 1968 Wat is beter: om te weet jou pa gaan dood of om hom onverwags te verloor? So wonder ek en my neef nou die dag. 'n Ander niggie, wie se pa onverwags weg is, reken sy sou enigiets gee vir nog net een gesprek, vir die kans om te kan afskeid neem. Ek sê ek weet nie. My pa (middel agter op die foto hierbo) is dood ná twee maande in 'n hoësorgeenheid. Hy het sy hoeveelste hartaanval oorleef en sou moes terug hospitaal toe vir 'n hartomleiding wanneer hy sterk genoeg was. Een keer was dit ámper. 'n Dominee in 'n bruin poliësterpak roep my eenkant toe in die intensiewe eenheid. Hy wil weet of daar iets fout is tussen my en my pa. Ek voel oorbluf. Ek kan nie sien waarop die gesprek afstuur nie. Die magswanbalans tussen outoriteitsfiguur en sestienjarige laat my onseker staan. Nee, hoekom? Want dit lyk of jou pa nie wíl lewe nie, sê hy. Ek steek die geheim weg dat ek en my pa baklei. Dat ons nooit praat oor my dooie ma (heel regs op foto bo) nie. Dat hy drink e...
