Ne me quitte pas



My bene bewe toe ek by die onkologiesentrum se trappe af stap. Nie net my bene nie, besef ek. My hele lyf; diep binne-in. My ledemate voel lam. Asof al my krag by my voete uitvloei. Ek hou aan die handreling vas. Hoe gaan ek regop bly? Dis soos om Skeleton Gorge uit te klim, tot by Castle Rock te loop en by Nursery Ravine weer af. As mens onder kom is jou bene soos jellie en jy wonder of jy dit gaan maak tot by jou kar wat by Kirstenbosch geparkeer staan. Ons loop uit in die sagte Kaapse reën en Buurman se bakkie in die onderdakparkeergarage voel vreeslik ver. Ek vat sy hand toe ons buitekant kom. Ons sê niks.

Die laaste keer toe ek goeie nuus verwag het, regtig onvoorwaardelik verwag het, was toe ek en Ouma in die wagkamer sit by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein en die twee dokters kom staan in die deur, jongerig, en hulle vra of ons die familie van mevrou Jooste is. Ek het sonder om te bevraagteken gedink hulle volgende woorde gaan wees: "Ons kom sê net sy is beter". Nie vir 'n oomblik het ek verwag wat uit hulle monde gekom het nie. Ek was dertien en ek het besluit niemand gaan my ooit weer so vang nie.

Vir ses weke speel ons die wagspel, Buurman en ek, deur karterings en skanderings en X-strale en sonars en 'n brein-MRI. Deur chirurgie en wondversorging (nie gedink ek het die maag daarvoor nie, maar ek verbaas myself) en onkoloog sien en familie vertel en versekeringsvorms invul en baie aanlynlees, want kennis is mag en in hierdie spel het ons al die mag nodig wat ons in die hande kan kry.

Die spel bereik sy piek die aand tussen die tweede stel skanderings (om te kyk hoe ver die kanker versprei het) en die opvolgafspraak by die onkoloog (om die uitslae te kry). Tydens die sonar het die radioloog 'n ander dokter gaan inroep, maar wou nie vir Buurman sê wat hulle sien nie. Die brein-MRI was uitmergelend, sê hy toe ons by die radiologieplek uitstap. Hy voel bekommerd. Ek ook. Daardie aand weet ons nie wat om te doen nie. Wat doen jy die aand voor jou vonnisoplegging: lewe of dood? Ek het vroeër 'n paar DVDs by die bargain bin uitgekrap en een van hulle is Anoeschka von Meck se Vaselinetjie. Ek sit hom in die DVD-speler net omdat hy bo lê. Ons kan maar enigiets kyk, solank dit net ons aandag aftrek.

O my God. Waar tjank ek toe. Oor die storie, oor ek meer weet van hoe dit voel om op 'n ashoop opgetel te word as wat ek elke dag sal erken. Oor die karakter wat sê: "Hoe weet mens wie jy is as jy nie weet wie jou pa was nie?". Oor Buurman wat vir my 'n veilige hawe bied in hierdie lewe waarin ek soms steeds so verskriklik verkeerd voel. Ek vertel hom al hierdie dinge en hy sê: "Jy doen goed". Niemand het nog ooit vir my gesê ek doen goed nie. Dit was altyd net presteer, presteer, jy het soveel potensiaal, presteer. Ek tjank harder en hy huil ook. Oor dit wat ons in mekaar gekry het; oor wat ons dalk die volgende dag gaan moet aanhoor. Ek het jou nodig, sê ek. Jy kan nog nie weggaan nie. Ne me quitte pas.




As mens nie weet wie jou pa is nie en vir jou ma is jy 'n geheim wat sy graf toe wil neem, strek jou identiteit nie verder as jou verlede nie, as jou eie menswees nie. Miskien, as jou ouers nog leef of jy't langer tyd saam met hulle gehad, voel jy anders. Dan weet jy jy is so-en-so se kind en jy kry jou krom tone van jou ma af en jou humorsin van jou pa. Dan gaan jou wortels verder terug as net jou eie bestaan. Dis hoekom ek kwaad word as iemand my aansê om die verlede te vergeet, agter te los, onbelangrik te ag. Want jy vra my om identiteitloos die toekoms in te gaan en dit hoef ek wragtig nie te doen nie, vir niemand nie. Ek hóú van geskiedenis, ek hóú van stories, ek hou selfs van my storie. Dit was nie altyd so nie.




Die volgende dag ry ons in die reën Kaap toe. Ons lag, omdat ons die vorige aand klaar gehuil het. Ons is vroeg en eet by 'n Knead daar naby. 'n Miniatuuremmertjie met enkele dun patatskyfies kos R20.00 ekstra by my vegetariese burger. Buurman se brood is deurskynend dun gesny. Ons voel 'n bietjie ripped off, maar die koffie help en dan is dit tyd om straataf te ry na Cancercare, waar ons op hulle pienk en pers bekleedsel sit en maak of ons deur hulle tydskrifte blaai. Ons is vroeg en so wragtig, die dokter is laat. Naderhand het ons niks meer om te sê nie. Ons kan nie lees nie. Ons maak beurte om op te staan en die vloer af te tree. Ons kyk die ander mense. Die dokter kom haal ons. Sy kantoor is ver van die ontvangstoonbank aan die onderpunt van die gang.




Ek trek my stoel voor die groot lessenaar nader aan Buurman s'n terwyl ons wag vir die kaalkoponkoloog om 'n telefoonoproep te neem. Ons kan nie help om te hoor nie. Hy praat met 'n ander dokter. Die pasiënt se metastase het na haar brein versprei en dit verklein die moontlikheid dat sy die jaar sal uitsien. Oorgedra in 'n saaklike, neutrale stemtoon. Ek vermoed dis die wetenskap wat belangrik is hier rond, nie die menslike faktor nie. Die onkoloog gaan sit en in presies dieselfde stemtoon vertel hy ons die vorige dag se skanderings is skoon. Buurman moet steeds 'n PET-skandering ondergaan, gevolg deur die duur behandeling. As die PET-skandering verspreide kanker uitwys, is daar verdere chirurgie, 'n spesiale soort bestraling en dieselfde behandeling as vir Stage IV-melanoom.

Die verligting kom nie onmiddellik nie. Om die waarheid te sê ek weet nie wat om te voel nie. Waar is die fight waarvoor ek voorberei het? Waar is die skok, die slegte nuus, die vonnis? Dit waarvoor ek al my kragte bymekaar moes skraap? Ons vra 'n paar vrae oor die behandeling, deel etlike besonderhede van betaling en groet half outomaties. Die mense wat die gebou se plante water gee, staan en wag by die kantoordeur met klein gietertjies.

Dis toe ek by die trappe afstap dat die adrenalien my lyf verlaat. Op pad huis toe slaap ek ongemaklik opgekrul op die bakkie se voorste sitplek. Ek slaap vas en word eers naby Leipzig weer wakker. In die kloof het dit gereën. Ons vat die honde en die katte (my twee rescue-katte het al geleer saamloop in die veld soos honde) en stap deur druppende gras en renosterbos berg-in om die trail-kameras te gaan aflaai. Die grond is nat, die lug skoon, die kleure helder. Die katte jaag mekaar verspot rond. Ons kry twee foto's van die luiperdmannetjie op die verste kamera. Dis 'n verrassing, want hy was laas in Januarie hier. Ons vat mekaar se hande en loop terug.

"Ek is bly," sê ek.

"Ek ook," sê Buurman.    




            



Popular posts from this blog

You Give God a Bad Name [Part 2]

Ontheemding

Ek het niks hier verloor nie