Jock, die priester (en ander leuens)
Ek lê in my witgeverfde kleindogtertjiebed met die blink, goue randjie rondom die gladde houtkopstuk. Dis seker nie rêrige hout nie, eerder 'n soort plastiekhout, die oppervlak veels te glad om eg te wees. Die dik winterlaken met sy fyn blou blommetjies voel growwerig onder my ken en teen my nek. Dis handgewas en ruik effens na Omo.
Ek is nege jaar oud en lê laataand wakker in my winterpajamas onder wolkomberse, voor die tyd van duvets. Die omringende lig moet die maan wees want die huisligte is lankal af. Dis plaasstil. Ek wens ek kon huil, maar ek kan aan niks dink wat trane regverdig nie. Ek weet net dat daar iets met my verkeerd is. Ander mense het iets goeds en moois wat ek nie het nie. In my is daar iets leliks. Dis deel van my. Ek ís die gebrek; die gebrek is ek. Dit was nog altyd so.
In die alleenheid word 'n idee gebore: as ek belowe om van nou af niks verkeerd te doen nie, as ek alles reg kan doen, sal die oordeel my verbygaan?
Volmaaktheid lyk na 'n uitkoms uit ingebore ondeug, 'n manier van wees wat my las sou kon verlig: as ek alles presies reg doen, al die reëls nakom, na die letter van die wet handel, sal niemand kan fout vind nie. Die verligting spoel soos warm sonlig deur my. Ek voel bly. Ek kán iets doen aan my letsel. Ek kan hard werk om perfek, en daarom skuldloos, te wees. Met harde werk – wat volgens ons skool se leuse alles oorwin – kan ek dalk van die swaar agterlos.
Ek skuif tussen die lakens sodat ek plat op my rug lê, my hande, liggies gevuis, regaf langs my sye, duime teen opgekrulde wysvingers, en enkels teenmekaar. My gesig is na bo gedraai, my lang, blonde hare styf onder my kop ingevee sodat dit nie deurmekaar word nie. Ek maak my oë toe en probeer reëlmatig asemhaal.
Ek begin om op aandag te slaap.

...word vervolg